TOELATING
Aansoek om toelating:
Die aansoekproses begin by die hoofstroom-skool waar die leerder geplaas is. Dit word deur die skoolhoof in samewerking met leerondersteuningsopvoeder, Skoolgebaseerde Ondersteuningspan (SGOS) van die leerder se huidige skool en die sielkundige van die betrokke Onderwysdistrik hanteer. Hulle voltooi die SIAS dokumente en heg alle ondersteunende dokumentasie (bv. verslae van opvoeders, terapeute, sielkundiges, medici en ander professionele rolspelers) by die aansoek aan. Daarna word die aansoek om toelating tot Jan Krielskool aan die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) gerig en deur hulle bestuur. Geen aansoeke kan direk aan die skool gerig word nie.
Indien die plasingskomitee aanbeveel dat ‘n kandidaat vir plasing goedgekeur is, en daar ‘n geskikte plek beskikbaar is, word reëlings getref vir toelating. Indien daar nie ‘n plek vir die leerder beskikbaar is nie word die leerder se naam op ‘n waglys geplaas. Leerders word voorwaardelik toegelaat en plasing word aan die einde van elke akademiese jaar heroorweeg.
Ingevolge die beleid van die WKOD mag leerders wat in ander provinsies woonagtig is nie in Jan Krielskool toegelaat word tensy daar ooreengekom is met die Direktoraat van Spesiale Onderwys se departement nie.
Oorplasing:
Wanneer ouers verhuis van een woongebied of provinsie na ‘n ander, kan ‘n oorplasing vir ‘n leerder vanaf ‘n soortgelyke OLSO-skool gereël word mits daar ’n toepaslike plek in die Jan Krielskool beskikbaar is. Die sielkundige van die leerder se huidige skool moet sy/haar profiel en ander beskikbare inligting (wat ‘n aanduiding kan gee van die leerder se spesifieke behoeftes en hoe dit aangespreek moet word) vroegtydig aan die Metropool Oos Onderwysdepartement van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement stuur vir goedkeuring voordat dit aan Jan Krielskool aangestuur kan word.
Vorms en Beleide:
Navrae:
Audrey Vermeulen
Telefoonnommer: +27 21 900-3264
Faksnommer: +27 21 903-1220
E-pos adres: audrey@jankriel.co.za
(Beskikbaar Maandag – Donderdag, 08:00 – 14:30)